Tuesday, March 24, 2009

Kobonqaba trip - December 2008

Asemrowend steeds, beautiful en skoner as wat ek gewoond was. So was die Transkei toe ons deur hom ry om by ons bestemming aan te kom. Dit was Dee se idee dat ons vir oulaas saam met ma sou Kers vakansie hou... sy het kanker gehad.

7 maande terug toe ons die ontstellende nuus kry het ons besluit om te groepeer en saam te gaan vakansie hou. Nie soos gewoonlik, in alle rigtings in te spat nie. Dit was my taak om 'n plekkie te soek wat sowat 25 mense sou kon huisves.

Dit was net 'n bestiering dat ek toevallig Ellen se nommer op die net raakgesien het. Alles wat ek gekontak het, was reeds vol bespreek. Ellen en Duppie het 'n huis aan die Wildekus, met twee rondaweltjies ten volle toe gerus. En dit was die plek.

In Augustes 2008 bevestig ek en betaal die deposito. Ons was altesaam 25 persone wat sou saamgaan in die begin. Toe begin die laaaang angstige wag. Angstig omdat ons nie geweet het of ma nog ok sou wees in Desember nie. Met haar besoek aan die onkoloog in Augustes stel die dokter haar gerus. "Ja tannie! natuurlik sal tannie kan vakansie hou saam met die kinders".

Maar dit was nie God se plan nie. Een ding wat ek al geleer het... jy meng nie jou blink idees met Sy wil en plan nie. Ond bid en bid... vir volkome genesing, vir dignaty, vir 'n wonderwerk.

In November betaal ons die uitstaande en dit was asof ons daarmee ma se kaartjie Hemel toe betaal het. Sy het skielike terugslae gehad, vinnig agteruit begin gaan soos die kanker gevreet het, en drie weke voordat ons sou ry Transkei toe, bevestig sy dat liewer gaan bly. Wat nou gedoen?

Dia (my liewe sussie) was die eerste een wat gese het... "ek bly om na ma te kyk". Toe Tersie en Babs, Ma se twee sussies, of "die golden girls" soos ons na hulle verwys het. Ma was toe reeds in die siekeboeg van Ons Herberg ingeboek.

Sy het ons gesoebat om voort te gaan met ons vakansie planne, onselfsugtig soos wat sy maar was. " ek gaan nerens voordat julle nie terug is nie". Natuurlik was dit nie 'n oorweging om te gaan nie...

Maar ek se mos, Jy meng nie jou blink idees met God se wil nie... Daar was werk om te doen. Ons het 90 Xhosa bybels gehad om uit te deel. Ons moes mekaar dieper inspireer en vind. Ons 4 broers, en ons neef Lee, en ons gesinne.

Ons het almal die laaste week voordat ons sou ry vir ma gaan groet. Toe ek uit haar kamer uitloop het ek omgekyk. Sy was besig met die ander mense in die kamer en ek het geweet ons sou haar weer sien in lewende lywe.

Met almal wat agtergebly het se blessing pak ons toe en sit af Transkei toe.


Die eerste paar dae...

Ek en my gesin en broer Christo het 'n paar dae voor die tyd gegaan om te gaan nesskrop en te besluit wie trek waar in. Ons het die 13e Desember vertrek hier uit Noorwes deur Bloemfontein, Aliwal (daar het die hael ons gewetter) tot in Queenstown. Ons was al vroeg daar maar het besluit om oor te slaap. Dit was 'n redelike geskarrel om so in die middel van die vakansie blyplek te kry... maar dierbare mense het ons soos wesies ingeneem.

One het op ons tyd opgestaan die volgende oggend en die pad gevat. Sowat 18 km buite Queenstown draai ons weg Transkei toe. Deur Cofimvaba, Tsomo tot in Butterworth. Buite Butterworth regs na Centani toe en daar eindig die teerpad. Van Centani af is dit sowat 26 km (wat mens so uur aan ry) tot by ons bestemming.

Wat 'n gesig en gesug was dit nie toe ons oor die laaste bult ry en die blou dam voor ons sien. Tussen ons en die see staan die 6 of 7 huisies in die middel van nerens. Dit is gebou op die duin naaste aan die see net voor die GROOT afdraende strand toe.

Ons het "ons huis" vinnig geidentifiseer en Duppie en Ellen het ons as't ware ingewag. Alles was nog deurmekaar soos wat hulle besig was om vir ons die plekkie voor te berei. Ons het nietemin solank in die rondaweltjies ingetrek en teen die tyd wat ons uitgepak het en gou 'n lekker stort gevang het, was dit 'n ander plek.

Duppie en Ellen het ons deur die huis geneem en al die geriewe en reels en gebruike verduidelik. Hulle was nog 'n dag of twee saam voordat hulle op hulle eie vakansie Mauritius to vertrek het. Natuurlik het ons "eersgekomenes" toe dadelik uit die rondaweltjies getrek en die beste neste gekies binne die huis. Toe het ons begin wag vir die groot gros van die groep.

Die volgende dag het ons bietjie die Kobonqaba rivier besoek. Christo en Daniel het oor die rivier geswem/stap terwyl ek die oewer verken het. Vroutjie Natalie het die kamera en sy neem videos en fotos. Ek was buite sig toe ek op 'n tyd 'n helse gil hoor vanwaar ek hulle gelos het. Geen opvolg gille het my effens gerus gestel maar ek het vinnig terug gestap.
Daar aangekom was Christo hulle terug aan ons kant van die rivier maar hy het kop onderstebo in die vlak water na sy voete gestaar. Natalie was dik van die lag en ek wou weet!


Christo en Daniel aan die oorkant


Haar weergawe... "Christo en Daniel was reeds terug van die oorkant van die rivier toe Christo terugloop in die water om die sweet af te was. Net sowat 10 meter van die kant af trap hy op 'n Electric Ray wat hom en sy hele 100 kg uit die water lig en hom soos Petrus van ouds bo-op die water laat hardloop het."
Ek kyk en sien die bloed op sy voet waar die ding hom ge"sting" het.

Ek het, soos dit 'n goeie broer betaam nie dadelik gelag nie...




Christo net na sy "skokkende" ervaring


Neef Lee en Jarred het eerste daar aangekom. Jarred is 8 jaar oud en outisties. Die vakansie sou vir hom en Lee 'n belewenis word later. Dit was vir hulle 'n pa en seun "breakaway" wat hulle seker vir lank sal onthou. Lee en Jarreth het in een van die rondawels ingetrek. Jarreth is 'n lewendige knapie wat ALLES deeglik ondersoek voordat hy dit met rus laat. Maar wat 'n plesier was hy nie.



Jarreth with one of his crabs

Broer Fanie en gesin (van SEWE) was volgende. Omg wat 'n bakkievol was dit nie! Almal tieners en vrotvol lewe! Die jongklomp het veseker dat rus en stilte net rus sou wees. Christo het sy vrou en tiener dogter op die lughawe in Oos Londen gaan haal en ons was amper voltallig.

Ouboet Herman en Audrey het laat die middag ook opgedaag. Ek het hom nog met Lee se paintball gun ingewag. Lekker gelag toe hy sy arm deur die venster steek om te groet - net om vinnig terug te ruk en vensters toedraai soos wat ek hom met die verf balletjies gepeper het. Vol geel kolle...wat later pers geword het natuurlik.

Ons Ekspidisies...

1. visvang

Visvang was eerste op die lys want vis eet wou ons. Maak nie saak hoe ons hulle in die hande sou kry nie. Die water was maar bitter koud en ons kanse in die rivier en op die rotse was nie goed nie. Gelukkig was dit naby donkermaan en ons het die spears reg gekry. Die doel is om met lampe sowat kniediep in die water -in die nag - te loop en vis te spear wat nie aan die hoeke wou byt nie.
Ons het sowat 8 uur die aand na die Jakaranda wrak se kant toe gestap vanwaar ons die water sou betree. Ek, Faan, Stefan, Michael het saam in 'n groep gestap. Viskoors laat jou nie vir iemand wag nie. Die ander het agterna geval.






"spear manufacturing inc."


Tussen ons vier begin ons met ons koplampies die vissies raaksien, en die koors styg. Daar is later nie een wat vir die ander wag nie en almal hop van die een sloep na die ander op soek na die grootste om te spear. Ek was juis op die punt om 'n brawe sprong oor 'n poel te waag toe ek gly op die snotterige rotse. Die een been na links, die ander na regs. So ver van mekaar af soos die ooste van die weste!... om die waarheid te se... raak ek heeltemal submerged in 'n halwe meter water. Gelukkig gaan sit ek op my skokbrekers. Ek het gehoop en bid niemand sien my val nie..maar Fanie se lawwe giggeltjie het my hoop verydel. Die volgende paar aandjies se planne om te spear het ek nie met soveel geesdrif aangepak nie... die pyn wou my nie los nie.

Ons het wel een nag baie mooi Mullets met die net gegooi. Maar dit was ook nie sonder drama nie. Viskoors het my weereens nie laat dink nie en ek het die gooinet na 'n skool Mullets (in DIEP water) geslinger sonder om dit behoorlik om my pols vas te maak. Gelukkig is Stefan 'n sterk swemmer sonder bang hare, en hy is agter die gooinet aan om dit te retrieve.


2. Christo en sy Bergfiets


Dit was lekker om vir hom te kyk hoe hy wegtrek in die oggend baie vroeg, en ek wou vreeslik graag saamry maar, in die eerste plek was my stuitjie seer van die middernagtelike eskapades en my "beheerde" val op die rotse, en gelukkig was daar 'n moertjie weg op die ander fiets.

Christo het sowat 80 km 'n dag gedoen en het een of twee bybeltjies saam gevat in sy sak wat hy langs die pad uitgedeel het. Sy roete was terug Centani se kant toe, links by die blou huisie na Trennery's en Seagulls toe en weer terug. Hy wou eendag met hoogwater oor die strand van trennery's af terugry...maar 'n 4x4 ry nie eers daar nie. Toe moes hy maar die fiets oor die skouers gooi en dra. Die dag het hy verder om geslaap.

3. Die wrak


Almal ken seker al die stories van hoe die Jakaranda skip op die strand beland het. Dit het in 1971 gebeur en een ding is seker. Dit was nie die stroom wat hom uitgespoel het nie. Daarvoor is hy te netjies tussen die rotse op die strand geparkeer.



Natalie en Daniel by die wrak



As die vis nie byt nie.... slaap Jordan.


Duppie en Ellen het vir ons gese toe ons daar aankom dat die see die afgelope paar weke rowwer was as ooit in die tyd wat hulle al soontoe kom. Ons kon die opdrifsels sien wat 4 - 5 meter bo die hoogwater merk gele het. Duidelik tekens dat daar onlangs storms moes gewoed het.
Die wrak het ook natuurlik, as gevolg van die storms, baie van sy aansien en aantrekkings krag verloor. Om nie te praat van sy maste en agterste boeg wat onder die water en sand verdwyn het nie.



3. Sommer net rondry en rondloop

Dit is lekker om na so 'n week of wat bietjie weer in die beskawing te kom. 25 mense waarvan die helfte tieners was, eet soos Olifante en ons moes kort kort voorrade aanvul. Die nommer 6 pot moes elke aand vol wees anders lei iemand honger. Dit was os stert, skaapnek, hoender dye en boude en wat ookal om die spyskaart so aantreklik as moontlik te hou.

Oppad Kei mond toe is daar 'n boendoe winkel wat omtrent alles het wat jy in Shoprite sal kry. Solank jy bereid is om te "cater" vir inflasie, glad nie ander planne het vir die res van die dag nie en in lang rye wil staan.

Almal behalwe ek en Natalie was eendag Oos Londen toe vir die pret. Die kinders wou fliek en "shop" Lee en Jarreth het dit so geniet dat hulle 'n uur laat terug was vir die pont by Kei rivier. Hulle moes noodgedwonge maar daar oorslaap tot die "ferry" weer ry die volgende oggend 06h00. Dan weas ons kort kort na 'n winkeltjie sowat 5 km terug Centani se kant toe vir baie duur koeldranke en lekkergoed.


Die bo loop en die mond van die Kobonqaba was ook 'n plekkie wat ons gereeld besoek het. Ek het nog nie sulke groot sappige pronse gesien soos wat ons in die bo loop genet het nie. Nie so baie nie... maar uitgevreet! Pencil bait is ook volop... nie dat dit juis 'n gewilde aas is nie.

Op die strand was dit net speel en swem en speel..... nes die kinders saam met die kinders.

Stefan het 'n wild vreemde maar mak wolfhond op die strand raakgeloop en hulle het omtrent baljaar.



Stefan en 'n vriend



Christo en Daniel in swaard geveg





Terug na die werklikheid

Tussen alles deur het die sombere wolk heeltyd oor ons gehang...
Ons bel maar elke dag vir Dia om te hoor hoe dit gaan met ma. Een dag beter...die volgende swakker.

Die dag voor kersfees was die ergste. Dia bel in trane.... "ma wil met julle almal praat. Sy vra toestemming om te gaan" Nadat Herman (ouboet) met ma gepraat het, gaan pak hy sy goed. Hy is oppad terug huistoe om by haar te wees. Hy het toe sommer die daad by die woord gevoeg en is dieselfde dag terug huistoe.
Ons ander oorweeg dit ook.
Die volgende oggend klink Dia baie beter... en ma is okay nog. Sy SMS tot die krieket telling vir ons.

Judy en Brian(my dogter en haar man) en hulle gesin kom ook die dag voor kersfees daar aan om aan te sluit.

Dia bel weer met slegte nuus van agteruitgang en die atmosfeer raak al hoe somberder en ons wil huistoe.

Dit was drie dae later (die 28e) wat Fanie ook oppak. Christo die volgende dag... en ek die dag na hom. Lee en my dogter hulle bly vir nog twee dae vir die kinders se onthalwe, en om die plek op te ruim. Lorinda en Jordan (Judy se tweetjies) is nog babas.

Ons moes bly tot die 3e Januarie. Die 1 ste is ons reeds almal by die huis en gaan sien vir ma so om die beurt.
Ek was die Sondag 4e Januarie daar. Toe ek groet kyk ek weer om...en sy kyk vir my... en ek tel my hand op en waai nog vir haar... vir die laaste keer. Sy is 'n week later in 'n hospice in Polekoane oorlede aan kanker.


...Ons roos is huistoe.

Die was die laaste foto wat Dee vir ons ge SMS het... met die woorde - "ons dapper mammie"