Sunday, April 12, 2009

My pa en die Hemel...

... hom nooit gehoor iets bid anders as ... "VaderonsdankUvirdiemuldegaweonsvraUseenterwylonsditgebruikomJesuswilalleenamen"

En toe ma die eerste keer in 1976 gediagnoseer word met kanker, is sy 3 maande Grootte Schuur toe is vir bestraling. Met ons eerste ete saam bid hy so wraggies... "dankie Here dat mammie weer gesond is"

Dia het van die lag uitgebars van skok... Pa het opgespring en is snikkend kamer toe. Ons het in stilte klaar ge-eet nadat ma ons 'n vuil kyk gegee het en beveel het..."eet!"

Daarna tot met sy dood 10 jaar later, net weer die gewone gebedjie by die tafel. Ek het na pa se dood vele kere vir die Here gevra... waar is my pa nou?

Tydens my pa se afsterwe het ma nog in Giyani gebly in die huis waar sy by die SAUK gewerk het. Die regering was so gaaf om vir haar te laat bly so lank as wat sy wou. Ses maande later het sy egter 'n verplasing Polekoane toe gekry en het Giyani verlaat.

Dit was net daarna toe ons hoor dat die huis tot op die grond afgebrand het. Ek en broer Fanie het gekuier by ma in Pietersburg en het besluit om na die skade te gaan kyk. Dit was sowat 2 ure se ry vanaf Pietersburg.

Die huis in Giyani was net langs die hoofweg in die dorpie Kremetart. As ons kinders naweke opgetrek het soontoe het ma altyd in die agter tuin gestaan onder die avokado bome en ons ingewag.

Ek en Fanie het toe net daar aangekom en kon van die hoofpad af die hoop as op die fondasie en vloer sien le. Dit was 'n pre-fab huis en het dus soos papier gebrand. Regoor die huis (wat nou net 'n hoop as was) sien ek dit toe:

Ma het my na pa se dood vertel hoe hy in die oggende voor drie uur wakker geword het. Net lang hulle bed was die lugreelaar waarop my pa se draagbare radio gestaan het. Hy het sy bene van die bed af geswaai, die lugreelaar en dan die radiotjie aangesit. Daar het my pa elke more drie uur geluister na die oggend boodskap. Dit was my pa se tydjie saam met God. Al ooit gehoor van 'n binnekamer Christen?

Al wat bly staan het tussen al die as, was die staander waarop die lugreelaar en radio was. Die paaltjie en 'n dwarslat... in die vorm van 'n kruis.

En ek se vandag nog "dankie Here, vir "grace" en vir my pa in die Hemel....