
"There is a lonely little place on the wild Wild Coast with a name not easy to pronounce..." so het die liedjie begin wat ek oor Nqabara geskryf het.

En Ma-Judy se weergawe
o o o O O O o o o
Nqabara
Onthou jy nog ons vakansie saam
Ken jy nog die rivier se naam
Die laataand bootrit om vis te gaan vang
Die kabeljoue wat soos biltong teen die bome hang
Ruik jy die vars vis wat braai in die pan
Terwyl ons ‘n glasie skink uit die kan
Proe jy die mossels, die prons en die kreef
Soveel oormaat sal ons nooit weer beleef
Kan jy onthou hoe die visarend skree
As dit laatmiddag word daar by die see
Die mullets wat hoog uit die water spring
En Dolweni wat vinnig die net nader bring?
As die maan sy verskyning maak oor die berg
Brand die vuur lankal, die vleis is al reg
Lank terug se stories, kan jy nog ontho?
Ek sou dit graag gee as geskenk vir jou.
o o o O O O o o o
Ek het gou na ons aankoms as Transkei inboorlinge in 1975 kennis gemaak met Nqabbies en sou vir die volgende 5 jaar elke vakansie en naweek as dit moontlik was, daar deurbring.
Vanaf Umtata was dit sowat 2 ure se ry. Eers Idutya toe, links na Willowvale en dan sowat 15 kilo's van Beachamwood af weer links deur die statte tot onderaan die bo loop van die Nqabarana rivier. Vandaar was dit al langs die Nqabarana rivier se wal tot by die boothuis en net sowat 200 m regs van die boothuis het die twee riviere in die see gemond. Dis nou die Nqabara en die Nqabarana. (die "r" word "g" uit gespreek)
Nqabara is gelee net suid van Dwesa natuur reservaat en basies onbekombaar (aan die suidekant van die rivier) as jy nie 'n vierwiel voertuig het nie.
Die pad was altyd 'n belewenis. Veral die laaste stukkie van sowat 30 km waaraan ons omtrent 'n uur gery het. Almal langs die pad het al die wit Landrover geken en ons is elke keer met geweldige toejuigings welkom geroep. Oom Theo het die vorige dag al die "kwedine's" laat weet ons is oppad en dit was hulle taak om dat die boothuis gereed te kry.
Daar aangekom het hulle reeds die boothuis oopgesluit, die bote uitgehaal en in die water gesit, die stapel beddens uitgepak en die kampvuur onder die Mangroves aan die brand gesteek.
Heerlik!... die water was warm in die no 10 swartpot op die vuur en die bier reeds koud binne in die parafien vrieskas as ons daar land.
Emmertjies sand en modder garnale het aan die Mangrove takke gehang voor die boothuis, die visstokke was uitgepak en al wat ons moes doen was om in die boot te klim en diep waters toe - of dit nou diepsee toe was of op die rivier self.
Wat ek altyd sal onthou van my eerste besoek aan Nqabara was die aand toe Pa Theo reg voor die boothuis 40 groot Mullets met een gooi gevang het. Die net was so swaar (gelukkig nie geskeur nie) dat hy met een hand aan 'n mangrove op die wal moes klou terwyl hy met die ander hand die net uit die water haal. Dit was die volgende oggend se ontbyt.

Nqabara boothuis kon 'n groot familie vir 'n hele vakansie huisves. Ons was op staduims tot 20 mense.
Aan die mangroves voor die boothuis was daar oral spykers in geslaan. Dit was om die grotes aan op te hang om "winddroog" te word voordat hulle ge"fillet" was.
Donkermaan was my gunsteling tyd om daar te wees. Dan het ons onsself bewapen met 3 punt "spears" aan besemstokke en het in die nag die vlak water (heupdiep) aangedurf om die rotse. Die parafien en gas Coleman lampe wat ons in die een hand gedra het, het die visse aangelok en dat kon mens hulle "spear" en in sakke bymakaar maak. Vandaar die sakke vol vis waarna ons altyd verwys het. Die visse is dan die volgende paar dae gebruik as aas wanneer ons diepsee toe gaan.

'n Nag se vangs het ingesluit seekat, baie vis en klomp Allekreukels wat reguit pot toe was...
Diepsee was nou nie my gunsteling tyd verdryf nie en al was ek nooit see siek nie, was ek 'n paar keer naby. Ons het as 'n reel in die Nqabara mond gele en wag op die boot totdat Oom Theo besluit het die branders is reg. Dan moes ons klou om die eerste 5 of 6 branders te spring om agter hulle te kom. Ek sal nooit kleinboet Christo se gesig en reaksie vergeet sy eerste keer saam diepsee toe nie. Toe ons klaar branders gespring het en ons anker, soek hy vir krake in die boot se vloer. Dit is hoe hoog ons deur die lug trek elke keer as ons 'n brander spring en die water weer aan die agterkant van die brander tref.

Hier is 'n baie jeugdige "die uwe" met 'n dag se vangs uit die diepsee

Pa Theo met 'n mooi Koper Steenbras

Christo (met die rooi hoedjie) na sy eerste vangs.

Gekskeer binne die boothuis met die Nqabarana rivier in die agtergrond. Met spring getye het die water soms binne in die boothuis ingestroom.

Oorlede Oupe Faan met my oudste dogter (wat die jaar 28 word.) voor die boothuis. Vanuit die lug was die boothuis feitlik onsigbaar soos wat die reuse Mangroves dit bedek het.
Tydens donkermane was nog 'n gunsteling tydverdryf om in die nag, met lampe op die boot op die rivier te ry. Die reuse Mullet volg weereens die lig en dit was gou of die boot se vloer wemel van die sterte soos wat hulle inspring en op die vloer le en spartel.

Hier is Ma-lida en Lorinda aangetrek vir 'n nagtelike rit op die rivier. Let wel dat die dik klere was nie omdat dit koud was nie, dit het gedien as panser teen die aanvalle van die Mullets wat soos torpedo's in die boot gespring het agter die lig aan.
to be cont...
